Boss Lady

Uit my mond die kreet…

“Grappies oor dom blondines traak my nie, want ek weet ek is nie dom nie … ek is ook nie blond nie.” – Dolly Parton

Inge Strydom skryf in ’n Solidariteit Tydskrif artikel van vyf jaar gelede, die volgende: “Die vrou word tradisioneel beskou as die een wat tuis moet bly en die huishouding moet versorg. Die skoner geslag het daarom in die meeste wêrelddele eers in die laaste helfte van die 20ste eeu die arbeidsmark betree. Amerikaanse vroue het byvoorbeeld eers in 1972 dieselfde regte as mans ontvang.”

Ek lees dit en dink: Dankie tog ons leef in ’n moderne eeu waar vrouens veel meer regte het as in die verlede. Maar dan tref dit my: “veel meer” as in die verlede is steeds nie noodwendig gelyk aan ons manlike medewerkers nie en miskien is hierdie stryd nog ver van klaar.

Dit is eintlik eers onlangs wat ek direk en persoonlik begin besef het hoe hard ons as vrouens eintlik moet baklei vir ons gelykwaardige “plekkie in die son”. Die rede vir my besef is die feit dat ek deesdae, as ’n swanger vrou, ’n hele nuwe fase van vrouwees betree. Aan die een kant die wonderwerk van lewe wat binne my groei en die absolute vreugde en vervulling wat die vooruitsig van Ma-wees my toelaat om te ervaar. Aan die ander kant, die skielike etiket wat ek gekry het wat my, in die oë van sommige mense, verander in ’n weerlose lammetjie wat nie in staat is om enige iets anders te kan wees nie.

Ek verstaan daar is sekere beperkings, en my lyf is nie noodwendig in staat om alles soos gewoonlik aan te pak nie, maar die doelgerigte dromer wat ek is wil tog kan glo dat ek Ma-wees deel van my mens-wees kan maak?

Moet my nie verkeerd verstaan nie Ma-wees en vrouwees is iets wat, in my opinie, reeds ’n staande ovasie verdien, maar die inperkende reaksies wat ek in sekere kringe begin kry het oor die ander aspekte van my lewe, het ’n vlam in my hart aangesteek wat my onlosmaaklik motiveer om nie myself te verloor in die voorskrifte van ander nie.

Skielik kyk ek in die spieël, 7kg swaarder as gewoonlik en al wat ek kan dink is: Weg met enige iemand wat neerkyk op ’n vrou in enige fase. “I am woman, hear me roar!!” Ek sal Ma-wees en vrouwees en mens-wees aangryp en myself vereenselwig met die vroue-vegters van ons tyd.

Die vroue, dogters, susters, vriendinne en Ma’s wat wat nie terugstaan vir enige iets of enige iemand nie. Ek sien hulle in die kollig en hulle vrou-wees moedig my aan. Soos Jo-Anne Strauss, Elana Afrika, Diaan Lawrenson, Riana Nel, Minki van der Westhuizen – daar is te veel name om te noem.

“Here’s to strong women. May we know them. May we be them. May we raise them.”

Ek is ook dankbaar in hierdie tyd vir mense en medewerkers wat my nuwe fase wel saam met my vier en ek kies om my met hulle wat vrouwees as vlerke sien te omring en die inperkende minderheid opsy te skuif sodat ek kan vlieg.

Uit my mond die kreet, die oerverlange na dit wat ek graag wil wees en kan wees, maar dit wie die wêreld soms sê ek is, ver te kort skiet. Mag jy nooit vergeet wie jy as vrou en die vroue in jou lewe is nie. Soos die Bybel sê: “You are fearfully and wonderfully made”.

Staan trots, staan sterk, sprei jou vrouwees-vlerke en vlieg!

xxnb

Leave a Comment

Your email address will not be published.