Vere Bravade

You’re GREAT!

Een van my lewensdrome was nog altyd om Amerika te verken. Ek dink omdat ek in die vermaaklikheidsbedryf werk wou ek juis graag gaan sien hoe dit, wat ek altyd net in tydskrifyte en op die TV sien, in werklikheid lyk, en is.

In Augustus vanjaar, soos wat ek my 35ste lewensjaar betree het, het ek myself, saam met my man, in New York, Washington DC, Orlando by Disney World en Universal Studios, en uiteindelik in Miami (op my verjaarsdag), bevind . Dit was omtrent iets uit ‘n droom. Elke gebou herinner jou aan ‘n woning of kantoor wat jy in ‘n film of televisie-reeks gesien het. Die energie in die lug was beslis tasbaar.

In terugskouing was ons tyd daar eintlik hopeloos te min. Amerika is GROOT! Veel groter as wat ek in my kleintyd drome sou kon raai. Gelukkig was Dave al met ‘n vorige geleentheid daar en was ‘n uitstekende toergids.

Ons het heelwat van die plekke besoek waar hy tien jaar vantevore was en ook ‘n klomp nuwe herinneringe gemaak. My verwagtinge van ‘n Amerikaanse avontuur het oor al die jare baie hoë hoogtes bereik en tog het die ervaring daardie verwagtinge oortref. Dit is ‘n wonderlike voorreg om so lank te droom oor iets en dan in die realiteit daarvan voor ‘n kasteel te kan staan terwyl vuurwerke die lug verkleur en dit beter en mooier is as wat jy ooit sou kon dink. Disney World het my beslis herinner: Drome word waar en ek is opnuut dankbaar vir daardie herinnering.

Buiten vir al die betowering wat die toeriste-aantreklikhede gebied het, was dit wat my die meeste beïndruk het, die Amerikaners se patriotisme en trots. Maak nie saak in watter streek van Amerika ons was, of met watter ras of kultuur ons te doen gehad het nie, almal is trotse Amerikaners. Voor elke tweede huis hang ‘n Amerikaanse vlag in al sy glorie. Die plaaslike teater en sportsgeleenthede word uit hul nate uit ondersteun en of ons met ‘n kelner of “koning” te doen gehad het – almal was trots op die werk en diens wat hul lewer en trots om Amerika hul land te noem.

Ten spyte van hul huidige politieke onstuimighede was dit asof almal daar voel hul het ‘n sê en lewer ‘n belangrike bydra tot ‘n groter prentjie. ‘n Mens kry die idee dat elke individu voel hy of sy maak saak. Van die Uber-bestuurder wat ons by die lughawe opgelaai het en vir ons foto’s van sy vrou en kind gewys het terwyl hy ons van sy drome vertel, tot die hotel-eienares in New York wat vir ons koffie aangedra het en gemaklik uitgehelp het in die kombuis toe die ander werkers besig was.

Die kelners by restaurante vereis ook byvoorbeeld ‘n minimum van ‘n 15% fooitjie. Hul verkies 18%, maar verwag eintlik 20%, want hulle glo hulle is goed in hul werk, werk hard en hulle behoort ‘n genoegsame beloning daarvoor te kry. Hierdie spesifieke “tradisie” in samewerking met die wisselkoers het my en Dave effens platsak gelos, tog het ek ‘n waardering vir mense wat hulself nie “undersell” nie en weet wat hul werd is.
Ons moes dus dienooreenkomstig van die meer bekostigbare kos-opsies soos “hotdogs”, “1$ Pizza Slices” en regte Amerikaanse “Burgers and Fries” leef.
Tussendeur al die besig wees, pret hê en verken, het my horison verbreed. Ek was verbaas hoe tuis en gelukkig ek gevoel het in die land.

Dit het my laat wonder wie ek as Suid-Afrikaner is, en wat die bydra is wat ek lewer tot óns land se groter prentjie? Wat is ons nasie werd? Dit is soveel anders in ons land wat gevul is met ‘n oorvloed van konflik en armoede. By ons is enige fooi aanvaarbaar, want dit is minstens iets en iets is beter as niks. Maar wat sal gebeur as ons onsself en ons werk en ons land en ons mense begin waardeer? Daarby bedoel ek waarde heg aan dit wat ons het om te bied en hard genoeg werk om daardie waarde te regverdig? Ons het oneindig baie potesiaal en ons as ‘n nasie moet werkmaak daarvan om daardie potesiaal te ontgin.

Ek het besef ek is Trots Suid Afrikaans.

Ek het kort-kort in Amerika ‘n kompliment gehoor en ‘n amper-oordadige vriendelikheid van die mense ervaar. Natuurlik was daar hier en daar ‘n uitsondering, maar oor die algemeen, selfs as jy per ongeluk in iemand vasgeloop het, was hul reaksie op my ‘ekskuus’: “No worries”, “You’re good” of “It’s fine, you’re great”. Hoe heerlik om te hoor: “You’re great”. Dit is ‘n kultuur van komplimente met ‘n deurlopende positiewe gesindheid en ek dink elke mens kan soveel baat by ‘n bietjie opbouende interaksie.

Baie van ons is geleer om nie te veel van onsself te dink nie, eerder nederigheid aan die dag te lê. Miskien is dit tyd dat ons meer van onsself begin dink? As jy te groot is vir jou skoene, kry ‘n groter paar en baan die weg oop vir ander om jou te volg.

You’re great! Glo dit, leef dit en wees trots! Jy’t hard gewerk om die mens te wees wie jy vandag is. Jy is waardevol, uniek en kosbaar. Jou bydra maak saak, JY maak saak en jy hoef beslis nie vir enige iemand terug te staan nie! #MakeYOURSELFgreatagain

xxnb

Leave a Comment

Your email address will not be published.