Plattelandse Sjarme

Êrens op ’n stofpad…

“Onthou jy die saam besluit
Liefde had geen perke
Saam veg teen die steiltes uit
Hier staan ons nou
Sterker en sterker…” Laurika Rauch – Die Nostalgie

’n Paar jaar terug het ek die voorreg gehad om die anker aanbieder van Boer Soek ’n Vrou te wees en ek het vir twee jaar ons pragtige land plat gereis met die doel om boere te help liefde vind. Die proses was onvergeetlik, die program ’n hoogtepunt in my loopbaan en lewe, en êrens op ’n stofpad het ek myself opnuut gevind.

’n Jaar of wat na my tweede reeks van die program, kom daar toe ’n ander geleentheid oor my pad. ‘n Geleentheid om staaltjies en stories van my lewe tot dusver, te deel in ’n boek. Ek en skrywer Jana van Der Merwe het kragte saamgespan onder leiding van ons uitgewer Lux Verbi en na ongeveer sewe maande se swoeg en sweet het ons Paaie van Hoop, vrysgestel.

Hoewel die boek ’n wye samestelling van verskillende fases en gebeure in my lewe bevat, amper soos gedenkskrifte van dinge wat my oor die jare gevorm het, is daar een staaltjie wat my altyd met ’n ekstra lang glimlag op my gesig laat. Tydens my avonture op Boer Soek ’n Vrou, êrens op ‘n plaaspad in die Noordwesprovinsie in ’n klein dorpie genaamd Schweizer-Reneke:

“….In my eerste paar dae op Schweizer-Reneke, het dit gelyk of daar niks aangaan nie. Die vaal, klein dorpie was doodstil en boonop was dit skoolvakansie en winter. Die gastehuis (waar ek gebly het) was lieflik. Dit gebeur toe dat ek in daardie tyd, in die middel van nêrens, ’n sangoudisie vir ’n musiekteaterproduksie na Johannesburg toe moes stuur. Ek moes die bladmusiek kon lees en iemand kry om vir my klavier te speel. Uiteindelik moes ek ’n video-opname van die sangstuk maak en dit terugstuur Johannesburg toe om sodoende tot ’n amptelike oudisie deur te dring. So staan ek moedeloos in die apteek en vra vir die vrou agter die toonbank: “Weet Tannie nie dalk van iemand wat bladmusiek kan lees en klavier kan speel nie?” “Ja,” sê sy. “Daar is tannie Rinda Koen. Almal vertel sy help die kinders by die skool met musieklesse.”

Die vrou by die apteek het my gehelp om die musiek uit te druk en ek het dit vir ’n dag of twee by Tannie Rinda gelos om in te oefen. Die lied wat ek moes sing was “Always a bridesmaid, never a bride” van die musiekblyspel, “I love you, you’re perfect, now change.” Tannie Rinda noem toe terloops dat sy nog haar ou matriekafskeidrok het en of ek dit nie vir die video-opname wil aantrek nie. “Dit lyk nes ’n outydse strooimeisierok.” Puik, het ek gedink. Tammy wat op die Boer Soek ’n Vrou reeks my grimering gedoen het, het toe die video, van my wat sing in Tannie Rinda se rok, geneem. Boonop het Tannie Rinda ons geleer om te hekel terwyl ons die heerlikste beskuit en koffie in haar musiekkamer geniet het.

Ek het eindelik nie die rol in die musiekblyspel gekry nie, maar ek het ’n heerlike tyd op Schweizer Reneke gehad. Ek het wel ’n uitnodiging na die openingsaand van die einste mysiekblyspel gekry. Ek was nie tydens dié produksie op die verhoog nie, maar ek het in die gehoor gesit langs die liefde van my lewe, David De Villiers, met die wete dat alles ten goede meewerk….Sometimes a bridesmaid but this time the bride.”

Ons weet nie altyd waarheen ons lewenspaaie gaan lei nie, maar ek kan werklik getuig van God se goedheid en guns in my eie lewe en ek wens vandag vir jou ook nog vele paaie van hoop op jou lewenspad.

xxnb

Leave a Comment

Your email address will not be published.