Beautiful Boheems

“Whenever there is a conflict between being right and being kind, if possible, choose kind.”

RJ Palacio

Ongeveer twee maande voor die verwagte koms van my en my man, David, se eerste kleinding, het ons besluit om op ’n “babymoon” te gaan. ’n Tipe laaste wegbreek voor ons amptelik ouers word om net bietjie te gaan ontspan.

Ons het op Mauritius as die ideale bestemming besluit, want op dié tropiese eiland was die weervoorspelling “sonnig en somer” terwyl dit in Suid-Afrika, op daardie stadium, winter was. ’n Idilliese vooruitsig om die minste te sê.

Op die dag van die vlug moes ek eers ’n inspuiting op die lughawe ontvang wat enige moontlike bloedklonte tydens die vlug sou voorkom. Helaas, gekleë in ons wintersjasse vertrek ons vanuit Johannesburg.

Die vlug – hoewel nie te lank nie – was besonders uitdagend vir my. Hoe langer en hoe verder ons gevlieg het, hoe warmer en meer opgeblaas het ek begin voel. Soveel so dat ek my skoene moes losmaak. Ek was geskok toe ek gesien het dat ek enige weergawe van enkels verloor het.  Al die vog in my lyf het gelyk of dit tussen my kuit en hak versamel het. Buiten vir die water-retensie, was daar ook natuurlik die ekstra 14kg wat ek teen daardie tyd saam met my gedra het. En skielik het die vooruitsig van my lyf in ’n swembroek alle aanloklikheid verloor.

My dierbare man het my verseker dat ek vir hom steeds mooi is, maar ten spyte van sy vleitaal, het ek beslis meer soos ’n walvis as ’n meermin gevoel.

Met ons aankoms by die oord is ons verwelkom deur ’n asemrowende sonsondergang, ’n welkom-drankie en van die vriendelikste en mees diensbare mense wat ek in ’n lang tyd teë gekom het. Die positiewe houding van almal wat by Le Victoria Oord werk het my so diep geraak. Hul goedgunstigheid teenoor my het my opnuut laat besef wat die waarde van goedhartigheid is.

Gevul met vreugde het ons rustig geslaap en die volgende oggend net betyds wakker geword om die eindelose ontbyt opsies te geniet. Ek het vasgehaak by die pannekoek en Nutella – of soos my man sê: “Die Nutella met pannekoek op”. Dit was hemels.

Ek’t om my rondgekyk en besef dat ons omring was met mense van alle groottes wat bloot daar was om hulself te geniet. Die perfek, bruingebrande lywe op die brosjure was nie die realiteit nie. My selfbewustheid oor my opgeblaasde lyf en die onsekerheid oor my liggaam het verdwyn.

Van die buffet tot die swem-area, tot by die strand en selfs in die see was ’n mengelmoes van mense besig om ’n lekker tyd te hê, ongeag van hoe hulle lyk. Ou tannies met deurmekaar hare in hul baie noupassende bikini’s, en melkwit mans met knap speedo’s. Lyk hulle fantasties? Glad nie. Gee hulle om? Nie om die minste te sê nie.

Op hierdie eiland wat deur die Franse ontdek is, deur die Engelse oorgeneem is, en met Indiese en Oosterse invloede bestuur word, word teenstrydige kulture en gelowe deur die bank aanvaar en almal respekteer mekaar. Mense word goedhartig behandel.

Buite die oord het die eiland ’n derde-wêreldse-gevoel maar ten spyte van hul uitdagings (soos orkane), en beperkings (soos spasie), is daar ‘plek’. Plek vir ’n moskee langs ’n Hindu tempel om die draai van ’n Rooms-Katolieke kerk. Daar is plek vir ’n informele pynappelplaas, langs ’n massiewe suikerriet-plantasie, en daar is selfs plek vir ’n ongemaklike swangervrou op die pragtige strand. Vir elkeen daar: ’n plekkie in die son.

Ek het uitgerus, met ’n vol hart, en nog ’n paar ektra kilo’s op my heupe, teruggekeer na Suid-Afrika.  Hier het ons ook net soveel uitdagings en beperkings, maar is ons ook ’n land met net soveel potensiaal. Natuurlik moet daar in enige samelewing perke wees wanneer dit kom by wat aanvaarbaar is. Ek glo steeds daar is reg en verkeerd en sal nooit my waardes minag of opsy skuif nie. MAAR, na ons tyd in Mauritius, dink ek tog in die lewe, oor die algemeen, is daar beslis meer ruimte vir goedhartigheid en aanvaarding, teenoor onsself en teenoor ander.

“Everyone you meet is fighting a battle you know nothing about. Be kind. Always.”

Brad Meltzer