Dwars Gestreep

Wees jou eie baanbreker…

Binne perke, soos per die aanwysings, terme en voorwaardes geld. Hierdie is “reëls” en “regulasies” wat elkeen van ons al êrens raak gelees het, instruksies oor hoe om die dinge van die lewe aan te pak. Als van, hoe om byvoorbeeld tuin te maak, tot Ma-wees word in ‘n tipe handleiding aangespreek. Die leviete word ons voorgesê en bewaar jou siel as jy oor die lyn trap of jou eie weg baan en dalk nie volgens die vasgestelde standaarde presteer nie.

Albert Einstein het egter gesê: “Die maatstaf van intelligensie is die vermoë om aan te pas”. Die evolusie van jou menswees is die vermoë om jou perke te verskuif, die aanwysings te bevraagteken en jou EIE terme en voorwaardes neer te lê, en ’n baanbreker te wees…

Dit is hoe ek probeer om my lewe aan te pak. Dalk is dit omdat ek in ‘n bedryf is wat konstant verander met betrekking tot die inhoud en mediums waarmee ek werk. Ironies genoeg, is ek nie juis lief vir verandering nie, maar ek kan beslis aanpas en moes ook al baie keer in my lewe groot aanpassings maak. Die tipe “handleiding” wat iemand soos ek, en dalk ook jy, dus nodig het moet ons beslis nie inperk nie, maar veel eerder vlerke gee om te vlieg.

So kom ek toe af op Marnus Broodryk se boek: 90 Rules for Entrepreneurs. Marnus is ‘n “gewone” ou wat bloot besluit het hy gaan ‘n sukses van sy lewe maak en met harde werk, deursettingsvermoë en sy eie reëls en regulasies is hy vandag uiters suksesvol en raak by die dag net meer suksesvol terwyl hy ander mense inspireer om dieselfde te doen.

In Marnus se boek is daar wonderlike besigheidswenke maar ook soveel meer lewenslesse. Lesse waarmee selfs iemand soos ek, wat glad nie in ‘n korporatiewe wêreld beweeg nie, kan assosiëer. Hy sê byvoorbeeld in reël nommer 88: “Control only what you can”. Basies gaan hierdie reël daaroor dat die lewe gebeur – goed en sleg – en meeste daarvan is buite jou beheer, MAAR jou reaksie tot dit wat rondom jou aangaan is absoluut binne jou beheer. Hy gebruik die voorbeeld van ‘n irriterende persoon wat eintlik net ‘n resultaat is van jou irritasie. As jy weet hoe jy oor ‘n gegewe situasie of persoon voel het jy die vermoë om jou optrede aan te pas en jy het ook meer as dit, die reg om dit te doen.

In reël nommer 90 sê hy: “It really all depends on you”. Hy verduidelik dat instede daarvan dat ons by ‘n venster uitstaar en droom, ons eerder bietjie in die spieël moet kyk en besluit wie die persoon is wat na jou terugstaar. Wat is jy bereid om in te sit om die persoon na wie jy in die spieël kyk se drome ‘n realiteit te maak? Marnus skryf verder: “You reap what you sow. To get what you want you must decide where you want to be and hustle your butt off to get there because nobody else is going to to it for you”.

Maak jou eie reëls, stel jou eie perke en leef ‘n lewe waarop jy trots is. Wees ‘n baanbreker in jou eie reg. Jou morele waardes sal altyd vir jou ‘n indikasie gee van waar jou perke lê en luister na die stemmetjie binne jou. Daardie stemmetjie mag heel moontlik vir jou beter aanwysings gee as enige handleiding.

Maar indien jy ‘n bietjie inspirasie nodig het, kry Marnus se boek in die hande – “90 Rules for Entrepreneurs is your guide to avoiding the pitfalls, as well as seizing the opportunities, your handbook to being an entrepreneur, a millionaire and of course, HAPPY!”

xxnb

Leave a Comment

Your email address will not be published.