Feestelike Fiësta

“Cheers”

Die woord “cheers” het sy oorsprong vanaf die Latynse woord vir ‘gesig’, en het oorspronklik verwys na enige gesigsuitdrukking – vriendelik of andersins. Oor die jare het dit natuurlik ontwikkel tot ‘n meer vreugdevolle uitdrukking en was vir die eerste keer in 1720 ter aanmoediging van iemand se prestasies gebruik. Dankie Google vir al die inligting 😉

Afrikaans-spekende Suid-Afrikaners gebruik ook soms die woord “cheers” wanneer ons iemand “gesondheid” toewens. Ander kere sê ons “tjorts”, maar ek is nie seker wat die oorsprong van dit is nie, en ek is eintlik te bang is om te vra 😉 Ons sê ook natuurlik: “Laat hy val waar hy wil” en daarmee bedoel ons die drankie, en nie die drinker van die drankie nie.

Regoor die wêreld vier mense fees en klink glasies gevolg deur uitdrukkings van voorspoed en vreugde. In Duitsland byvoorbeeld sal jy hoor hoe mense luidrigtig skree “Prost” of “Prosit”, hierdie woorde is afstammelinge van die Latynse woord “prodesse”, wat losweg “mag dit vir jou goed wees” of “mag dit tot jou voordeel strek” beteken.

Duitsers sê ook graag “Zum Wohl” wat basies beteken ons drink op jou welstand, en die glasies, was vermoedelik, eeue gelede geklink om bose gese weg te jaag. Die Duitsers het intussen ‘n gewoonte daarvan gemaak om al die glase te klink vir goeie gees, en ons as Suid Afrikaners doen dieselfde. In Switzerland gebruik hul ook die woord “Prost” maar verleng die klank, vir een of ander onverklaarbare rede, na iets soos “Pröschtli” wat eintlik net “klein prost” beteken.

Nietemin almal van ons vier fees en volgens my is dit ‘n baie goeie ding. Die lewe is uitdagend genoeg. Ek glo ons moet aan daardie oomblikke van opwinding en vreugde vasklou met beide hande, want ek glo ook dit is juis die goeie tye wat ons deur die moeiliker tye sal dra. Die Bybel sê immers in Johannes 16:33: “In die wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou moed, Ek het die wêreld klaar oorwin.” Dit gee my rede om fees te vier, self in die moelikste tye. Hou moed.

In September hierdie jaar het ek rede gehad om fees te vier toe ek en my man een hele jaar getroud was. Ek weet dit is net een jaar en daar is mense wat al veel langer getroud is, maar ek en Dave het gevoel ons verdien ‘n feesviering en ons sal seker maak ons gun onsself dit elke jaar. Daar was vir ons gesê die eerste jaar van die huwelik is uitdagend en dit was in baie opsigte so.

Ons het drie keer getrek, ons huis restoreer en albei met nuwe werksprojekte begin. Dit was om die minste te sê ‘n baie bedrywige eerste jaar. Tog was daar ook fantastiese oomblikke, wonderlike avonture en ‘n groeiproses in elk van ons en in ons verhouding waarvoor ek oneindig dankbaar is. Om in ‘n verhouding te wees waar jy die ruimte en ondersteuning het om die beste weergawe van jouself te word is beslis ‘n voorreg.

Ek en Dave het trots op ons eerste huweliksherdenking by ‘n spa ingeboek en van al die spanning wat ons moes deurmaak vergeet. Ons het agteroor gelê en ‘n glasie vonkelwyn geklink op ons gesondheid, ons welstand en dat als wat ons vorentoe saam aanpak tot ons voordeel sal strek. Ons het nie in daardie oomblik ‘n spesiale woord ge-uiter, of ‘n groot bohaai gemaak van die heildronk nie, maar die klink van daardie glasies het my beslis herinner aan als wat ek en my man het om voor dankbaar te wees.

Ons is gesond, gelukkig en het mekaar.

Daar is baie redes om fees te vier, en mekaar te vier. Ons moet daardie redes ontgin en aangryp. Ek hoop volgende keer as jy ‘n glasie klink op ‘n spesiale geleentheid, persoon of as iemand ‘n glasie op jou klink, dat dit al die “bose geeste” sal verjaag. Ek wens vir jou ook gesondheid, welstand en vreugde!

Cheers…op JOU!

xxnb

Leave a Comment

Your email address will not be published.