Met my kop in die wolke…

“Op die vleuels van die daeraad,
In goudborduurde wolk-gewaad,
Met blye groet en gulle lag,
Kom Hoop gevloë uit die nag…”
A.G Visser

So sit ek ingedagte en staar na die wolke…Vet poffers in skakerings van wit, grys, pers, ligblou en pienk. Volrond en vrolik. Ek staar so diep dat ek prentjies begin sien. Skilderye wat reg voor my oë van vorm verander.

’n Kwaai draak wat vuur blaas word ’n onskuldige wit hasie met sagte ore en ’n ronde pof stert. Daardie einste stert verander binne ’n oogwink in ‘n magnifieke seiljag en omwentel skielik in wat vir my soos ’n roos wil lyk. Ek wonder of ’n mens net sien wat jy wil sien as jy so staar na die hemelruim….om nie eers te praat van die lewe nie.

Ek besluit toe om bietjie navorsing te doen en kry onverwags ’n baie oulike artikel op mieliestronk.com met die naam: “My wêreld, kyk die wolke”. Dit was asof die artikel vir my bestem was – ’n baie insiggewende en lekker-lees artikel oor alles en nog wat van wolke. Die artikel sê onder andere: “Wolkevorms het mense reeds van die vroegste tye af gefassineer. Hulle het nie altyd verstaan wat wolke nou eintlik is nie, maar hulle het sonder uitsondering geweet dat die wit wollerighede in die uitspansel vir hulle reën kon beteken. As die sluise van die wolkehemel oopgegaan het, het welkome water op die aarde neergegiet wat lewe in die natuur beteken het. Die mense kon hulle dors les en sien hoe plante uit die barre aarde opskiet na ‘n enkele reënbui.”

Die artikel brei dan verder uit oor al die verskillende soorte wolke en sê ’n wolk kan oor die algemeen beskryf word as ’n versameling waterdruppels of yskristalle wat so lig is dat hul, voor hul kans kry om die aarde te tref, vasgevang word in lugstrome. Hierdie druppeltjie en kristal is so klein dat hul maklik deur lugsrtome opgetel word totdat die versameling te swaar word en dit begin reën of sneeu.

Wolke lyk wit, of enige ander kleur, bloot omdat hul lig weerkaats en die donker ondertone is die onderkant van die wolk wat swaar dra. Daar is meer as ’n honderd soorte wolke waarvan twaalf intensief bestudeer word en die drie belangrikste tipes is die cumulus-, cirrus en stratuswolke.

Die tipe wolk wat toe egter my aandag spesifiek trek is die cumuluswolk, want cumulus beteken ‘hoop’, en my naam, Nadia beteken ‘om hoop te hê’. Die woord Cumulus verwys natuurlik na die opgeHOOPte, pofferige tipe wolke maar skielik het my nuutgevonde obsessie met wolke, sin gemaak.

Dit was asof die Here vir my ’n tipe raaisel voorgelê het toe ek so na die wolke begin staar en Hy vir my ’n boodskap wou stuur in ’n taal wat my hart sou verstaan. Hy’t geweet ek sou gaan verdere ondersoek instel in die wolkekuns wat my aandag so vasgevang het op die dag wat ek só na Sy wolke gestaan en staar het.

In daardie oomblik word die cumulus wolk vir my ’n tipe hemelse-herinnering daaraan om nooit hoop te verloor nie. Maar selfs meer as dit dat ons oorvloedig mag hoop en dat dit dalk juis die punt is: om druppeltjies en kristalletjies van hoop stelselmatig deur die verloop van ons daaglikse bestaan bymekaar te maak totdat ons “wolkies” so vol is van Sy Hoop dat ons oorloop en ook ander met hoop vervul. Hoop wat lewe beteken, soos die water wat die aarde voed.

Ek skryf vandag hierdie artikel met die wolke wat buite liggies oorloop en water wat teen die venster ruit spat. Dit inspireer my en herinner my en ek hoop vir jou ook, dat die Here sal voorsien. Ek bêre stil-stil ’n duppeltjie vertroue en sommer emmers vol hoop in my hart sodat wanneer dinge weer ’n bietjie droog raak in my lewe my wolkies vol genoeg gelaai sal wees om te kan reën.

xxnb

 

Leave a Comment

Your email address will not be published.