Metamorfose. Blom waar jy geplant word…

Net nou die dag ry ek verby ‘n nuwe gebou. Splinternuut, modern, op die oog af byna perfek aanmekaar geslaan. Dit is ‘n residensiële ontwikkeling, wat ek bloot kon uitken oor my man gereeld betrokke is by hierdie tipe ontwikkelings en hy my al bietjie tou-wys gemaak het oor sy industrie. Die robot slaan oor na rooi net soos ek by hom aankom en ek kry kans om die gebou van hoek tot kant te bekyk. Die ontwerp beïndruk my, die afwerkings lyk mooi en ek wonder by myself hoeveel gelukkige en dalk ook hartseer oomblikke gaan nog mettertyd binne hierdie mure ervaar word en ook deur wie. Die groot wit inligtingsbord op die hoek van die perseel vang my oog en soos die robot groen slaan en die irriterende motor agter my, my so wil-wil uit die pad uit stoot, trap ek my petrol plat en skiet weg terwyl ek ‘n norse kyk in my truspieëltjie gee. Selfs al sien die bestuurder agter my, geensins die agressie in my oë nie, voel ek beter omdat ek uiting aan my emosie gee. Terug op die oop-pad, wat regtig nie lank hou tydens spitsverkeer nie, word ek weer tot stilstand geroep deur die kilometers van karre wat voor my staan en die norse kyk in die truspieëltjie van die Tannie in die kar voor my wat dink ek het nie a.b.s brieke nie. Ek staan weer stil, ek word weer stil en dink terug aan die bord by die bouperseel. Daardie bord was vol name, mense en maatskappye wat almal ‘n bydra tot die ontwikkeling van die gebou gemaak het en dit is net die amptelike name, wat nog van al die mense wat vir daardie mense werk, die banke, die bouers…die boustene. Ek besef skielik dat ek al vir maande verby daardie einste perseël moes gery het, dat ek die bakstene gesien het voor hul gepleister en geverf was en dat ek verby die bouers gery het wat besig was om te bou. Onafgewerk en onvoltooid het dit my beslis nie so beïndruk soos vandag nie. Tog is dit as gevolg van al daardie harde werk dat die gebou vandag trots staan en pragtig pryk. Alles op sy tyd, dink ek weer, ‘n waarheid wat ek al soveel keer in my eie lewe geleer het. Alles op SY tyd. Die gebou is nog nie heeltemal klaar nie en sal seker nog altyd ontwikkel en verander, reggemaak word soos en wanneer nodig. Dalk word dit selfs nog eendag iets heeltemal anders. Ons weet nie altyd hoe die lewe ons gaan vorm en verander nie en soms vat dit vir ons lank voor ons trots kan staan in wie en wat ons is. Dalk kort jy ook net ‘n “pleister” en bietjie “verf” , ‘n span bouers en miskien ook ‘n besoek aan die Argitek om werklik jou volle potesiaal te bereik. Wees geduldig met jouself, herondek die boustene wat jou uniek maak, die drome wat jy van jou fondasie af in jou hartskamer bere, bou aan jou droomhuis en blom waar jy geplant is.

NB